Afrikaans: perel van groot waarde

Home




uit Rapport: Ons praat jou taal
09/07/2005

Afrikaners moet wéér voortrekkers word
WILLIE ESTERHUYSE

Afrikaans moes eintlik ná 1994 gesneuwel het. Veral as 'n mens in ag neem dat Afrikaans bestempel is as taal-van-die- onderdrukker.

Maar Afrikaans het nie gesneuwel nie! Die liefde vir Afrikaans by voorheen-onderdruktes is een van die wonders van Afrikaans. Dit maak Afrikaans inderdaad 'n pêrel van groot waarde.

Die redes?

Afrikaners het nie alleen-eienaarskap van Afrikaans gehad nie, al was hulle die heersersklas.

Die ANC, met Nelson Mandela en Thabo Mbeki vooraan, het van 1990 af 'n versoeningstrategie gevolg. Daarsonder sou Afrikaans miskien as praattaal oorleef het, maar as amptelik erkende taal in staats- en ander instellings dalk uitgewis gewees het. Die erkenning van Afrikaans as 'n nasionale bate was gelukkig nooit in dispuut nie.

Ná 1994 het Afrikaans onder Afrikaanssprekendes bly blom - of dit nou die rock- en pop-liriekskrywers was of romanskrywers soos Marlene van Niekerk. Daar was ná 1994 steeds 'n lewenskragtigheid onder Afrikaanse mense, ongeag die swaarmoedigheid van sommige taalbulle.

Wat ná 1990 duidelik geword het, is dat Afrikaners alléén nie die vermoë of selfs die wil het om Afrikaans in al haar funksionele dimensies te laat oorleef nie. Moeder Afrikaans word goddank ook deur ander kinders versorg, al was die Groepsgebiedewet een van die mees destruktiewe apartheidsmaatreëls. Afrikaanse mense leef nog oorwegend in geografiese, opvoedkundige en ander groepsgebiede, behalwe in die werkplek.

Afrikaners dra 'n kruis. Soos die Duitsers het hulle rassisme wetlik gesanksioneer. Dis nie 'n kruis wat maklik sal verdwyn nie, want die "sondes van die vaders word aan die kinders besoek". Dit verg tyd en doelbe wuste ingrypings in gevalle van erge staatsgeorkestreerde menseregteskendings om vertroue en geregtigheid te herstel.

Dit help nie om te sê nie: "Ons was teen apartheid." Die vraag is: wat doen ons met die kruis wat politiek en histories op ons beland het?

Daar is vier opsies:

Emigreer na die buiteland en raas van daar af.

Emigreer na 'n innerlike ghetto en verval in "stilstuipe".

Beoefen ontkenning, wat kan uitloop op uitdagende retoriek en uittarting.

< --> Word sigbare voortrekkers in die stryd om 'n nierassige demokrasie.

Ontkenning is 'n tipiese reaksie van mense wat nie die "wrede waarheid" oor die histo riese werklikheid wil aanvaar nie. Soms lei ontkenning tot reaksionêre vorme van revisionisme: 'n vertolking van die geskiedenis wat die wreedhede van die verlede probeer minimaliseer.

Ontkenning kan ook lei tot uitdagende en uittartende retoriek: "Vat ons soos ons is, of vlieg in julle hel in"; "Julle dwing ons tot geweld."

As Mbeki oor die kwessie van MIV/vigs in die spanningsveld van ontkenning/uitdagende retoriek vasgeknyp is, is derduisende Afrikaners om politieke en ander redes ook in dié spanningsveld opgesluit.

Maar wat behels dit om 'n sigbare voortrekker in die stryd om 'n nierassige demokrasie te word?

'n Mens moet versigtig met die woord rassisme omgaan. Ek verkies die omskrywing "destruktiewe persepsies oor ander rassegroepe". My swart kamerade praat ook te maklik van wit rassisme.

Die vierde opsie beteken dat daar voor eie deur gevee sal word, soos om net so luidkeels en op die persoon af teen wit rassisme en ras sisme-in-Afrikaans beswaar te maak as wat daar reëlmatig oor swartes wat die "rassekaart" speel, geprotesteer word. En om die waardes van die Grondwet in woord en daad uit te leef.

Ek twyfel of die meeste Afrikaners hoorbaar en sigbaar aan 'n nierassige demokrasie bou. Ek is nie seker of ek en my mede- Afrikaners David Piedt, Danny Titus, Russel Botman , Nathi Chonco en Barbara Mazekela goed hoor nie. Ons is dalk buite hoorafstand.

S. Watney (met erkenning aan Anton van Niekerk) het my gehelp om my onsekerheid te verstaan: ". . . Africa has been effectively demonized in a post-colonial discourse of perpetual catastrophe and unnatural disasters". Soos in Westerlinge se reaksie op die vigspandemie: ". . . we are witnessing a fundamental reorganisation of Western racism, as the constitutive colonial analogy between race and class is dissolved, and African blackness is reconceptualised as an analogue of the sexually perverse" (Missionary Positions: AIDS, 'Africa' and Race. Critical Quarterly 1989).

Het hierdie "fundamental reorganisation of Western racism" ook onder Afrikaners plaasgevind - bedoeld of onbedoeld?

Dit lyk so.

In 'n rubriek van Dawie in Die Burger (2 April 2005) getiteld Zim-eleksie: Waarom ANC so vreemd optree, word Mbeki, as 'n "Afrika-nasionalis", van 'n "onwilligheid om negatiewe dinge in Afrika raak te sien", beskuldig - soos dat hy nie kan aanvaar nie dat die nogal "vinnige verspreiding van MIV/vigs die gevolg van seksuele losbandigheid is. Afrikane is nie seksueel losbandig nie, en dus móét die siekte eerder as gevolg van armoede wees, luidens Mbeki se vermoedelike ideologie."

Of reeds vier jaar vantevore (Rapport, 27 Januarie 2001) deur 'n gerespekteerde akade mikus, prof. Hermann Giliomee, om aan te dui hoe "geyk" dié mening onder Afrikaners is: "Omdat hy (Mbeki) weier om die blanke persepsie te bevestig dat swartes losbandig is, versuim hy om die kritiek belangrike leierskap oor die vigsepidemie te gee". En dit net nadat Mbeki deur die betrokke persoon daarvan beskuldig is dat hy "gereeld die rassekaart speel".

In 'n vrye Suid-Afrika kan dié soort uitsprake gedoen word. Dat swart leiers dit as 'n "fundamental reorganisation of Western racism" beskou en sê dat dit is soos baie Afrikaners met hul apartheidsverlede nog dink, moet ons nie verbaas nie.

En as dit 'n ernstige negatiewe effek op pogings uit Afrikaner-kringe het om die posisie van Afrikaans as onderrigtaal te verseker, of om die naam Pretoria te behou, wie moet die finale verantwoordelikheid aanvaar vir die negatiewe gevolge van hierdie destruktiewe persepsie oor swart mense?

Nie alle Afrikaners is rassisties nie. Ek dink nie eens die skrywers wat bogenoemde uitsprake gedoen het, is rassisties nie. Wel ondeurdag én uitdagend. Maar die probleem is dat dié wat anders dink nie genoeg gehoor en gesien word nie.

Dis waardeloos om bloot te sê: "Ons is nie almal so nie." Baie Afrikaners het verleer om voor eie deur te vee. Hulle ly aan 'n "historiese floute" wat wit rassisme betref.

Die tweede en derde geslag sal anders wees. Soos die sewejarige Mikro-leerling wat ná al die gedoentes rondom haar skool vir haar ma vra: "Mammie, wat is 'n nie-blanke?"

Dié normalisering van verhoudinge het op mikrovlak reeds goed gevorder. Maar dit moet verder gevoer word.

Prof. Willie Esterhuyse was verbonde aan die departement filosofie en aan die sakeskool van die Universiteit van Stellenbosch.