Daardie stilte tussen twee klanke
Die nuwe CD Ruimtevaarder is "deels baie persoonlik", sê
die Nederlandse sanger Stef Bos, wat in Suid-Afrika is om sy heel eerste
DVD op te neem. Kobus Burger het met hom gesels.
'Dit is soms salig om stil te staan.' Stilstaan hoef nie 'n passiewe
fase te wees nie. En luister 'n mens fyn na die Nederlandse sanger Stef
Bos, is dit 'n besonder kreatiewe plek.
Bos, wat die afgelope 15 jaar 'n gereelde besoeker aan Suid-Afrika is,
is terug om sy heel eerste DVD aanstaande naweek in die Aula, Tukkiekampus,
Pretoria, op te neem. Dié geskiedkundige oomblik val saam met
die uitreiking van sy jongste album, Ruimtevaarder.
Wie is die ruimtevaarder?
"Ek! Op 44 is ek 'n ou man . . . Rondom my 40ste verjaardag het
ek 'n uitspraak van 'n Indiaan gelees: ' 'n man van rondom 40 moet sy
eie gesig dra'.
"Dit is presies waaroor dit nou vir my gaan. As jy jonk is, wil
jy iemand wees wat jy dink ander mense dink jy moet wees. Dit hoort
by die jeug. "Ek het egter gedink, laat ek wys wie ek is, veral
op die verhoog. En ek het dit gesoek in die gestroopte vertonings toe
ek uit die groot venues weggebreek het."
Die beeld van die ruimtevaarder is vir hom 'n foto van hoe hy nou is.
Iewers in die heelal sweef hy alleen en weet nie of hy vlieg of val
nie...
"Die aarde is vir my 'n metafoor van iets wat jy dink jy moet vashou.
Ek het dit al 20 jaar gelede gelees, maar nou moet ek dit ook leef:
As jy iets wil vashou (of behou), moet jy dit laat gaan.
Die afgelope vier jaar het baie mense in my direkte omgewing doodgegaan.
Aanvanklik is dit nie maklik om te aanvaar nie, maar nou is ek baie
liewer vir die lewe."
Dié lewensbeskouing verwoord hy nou in sy lirieke. Soos wanneer
hy sê: "As jy dink dis die einde, staan jy op die grens van
dit wat begin." 'n Mens merk iets van 'n balans; 'n stilpunt op
die grens tussen twee pole of teenoorgesteldes. Dít is ook te
bespeur in Bos se fisieke leefwêreld.
Hy is in Nederland gebore, waar hy vir 24 jaar gewoon het. Die afgelope
twee dekades woon hy in België en die afgelope vier jaar op 'n
plaas "presies op die grens tussen Nederland en België".
As sy blaas baie vol word, spot hy, "kan ek 'n entjie op my plaas
in België gaan stap en in Nederland pis".
Dan hunker sy hart ook na Suid-Afrika. "Ek reis nie na Suid-Afrika
nie, ek blý hier. Ek was vanjaar al vier keer hier. In Februarie
het ek ses dae af gehad en het toe hierheen gevlieg. Ek het 'n sosiale
wêreld hier; mense vir wie ek lief is, wat ek gereeld sien."
Die Nederlanders pols hom gereeld oor sy liefde vir Suid-Afrika en
hy hoop dat hy dié vraag sal kan beantwoord met die DVD wat hy
Saterdag en Sondag 17 en 18 September in Pretoria opneem.
Daar was al verskeie versoeke - hier én oorsee - dat hy 'n DVD
moet opneem, maar Bos het dit telkens van die tafel gevee. " 'n
DVD druis vir my teen die wette van die teater in.
"'n Teatergebeurtenis lewe en sterf op die oomblik as dit gebeur.
Dit is 'n sameswering tussen my en die gehoor. 'n Positiewe sameswering.
Dan wil mense iets tasbaars, soos 'n DVD, hê om saam te neem.
En ek sê altyd daar is iets tasbaars in jou kop. Die teater ervaar
jy in 'n bepaalde ruimte. Daar is 'n naelstring tussen die kunstenaar
en die gehoor. Jy sit in 'n donker saal, nie gemaklik by die huis nie.
Jy kan nie net opstaan en 'n bier in die yskas gaan haal nie. In die
teater is almal kwesbaar."
Dit is juis hierdie ervaring wat hy reken 'n mens nie op 'n DVD of TVskerm
sal kan oorplaas nie.
"Ek het verlede jaar in Holland die besluit geneem om wél
die DVD in Suid-Afrika op te neem. Ek weet steeds nie hoekom nie."
Die DVD beskou hy as 'n reis van die begin jare '90 tot die hede. "Dit
begin met Suikerbossie wat ek op laer skool geleer het en dit eindig
met 'n liedjie wat ek volledig in Afrikaans geskryf het, Sout van die
aarde, oor die Kleurlinge van die Kaap. Dit is die laaste liedjie wat
ek hier geskryf het."
Johannes Kerkorrel se Hillbrow, sy immer gewilde Pappa en liedjies
soos Zondag In Soweto wat hy die afgelope 12 jaar hier geskep het, is
ook daar. Dit is ook die eerste keer dat Bos met 'n volledige groep
Suid-Afrikaanse sangers en musikante sal optree.
Amanda Strydom, Stella Khumalo, Faith Kekana en Wess-Lee is saam met
hom agter die mikrofoon. En die musiekmakers sluit in Jean Oosthuizen,
Johan Rautenbach, Liza Joubert en Vinnie Henrico.
In November verskyn sy boek, Alles Wat Was , in Nederland. Dit beslaan
400 bladsye en dokumenteer sy reis tot dusver. Bos onderhandel tans
met Human & Rousseau dat dit ook hier uitgereik word.
"Ek het gevoel dit is nodig om vir 'n oomblik stil te staan. En
te vra: wat is die moeite werd? Wat is die antwoord? Om weer aan te
gaan...
'n Sanger moet soek na sy stem en as jy dink jy het dit gevind, moet
jy baie versigtig wees!"
Hy glo sy stem hoort tuis in kleiner, intieme ruimtes. Die teater.
Vanjaar het hy en sy orkes tydens 'n paar Belgiese feeste voor sowat
8 000 mense opgetree.
"That's another ball game . Dit voel asof jy oorlog toe gaan. Jy
voel soos Julius Caesar wat sy troepe toespreek. Vir my voel dit soos
'n foefie. In die teater praat ek met die indi idu en dit is wat ek
die meeste geniet. Teater is my eg, grote liefde.
Voor 8 000 mense kan jy nie iets vertel nie, jy moet speech! It doesn't
turn me on . Ek kry nie 'n styfte daarvan nie."
"Die wette van die teater bepaal dat 'n liedjie ook toneelspel
kan wees. Dit is wat jy ook by Herman van Veen kan sien. En by Brel.
As ek Vodka sing, sing ek die bloed van my stembande.
In die teater kan jy met stilte werk. Stilte is vir my die belangrikste.
Stilte tussen twee klanke. Tussen twee woorde... Dit vertel álles.
Miskien is die teater die enigste plek waar ek stil kan wees."
Dit artikel is geschreven door Konus Burger en gepubliceerd in Beeld
op 10 september 2005.